Nuus

Die Raad van Afrikaanse Beoordelaars het hulle eerste vergadering vir 2021 gehad. Daar is met nuwe ywer beplan aan lesings en aksies. Ons is ook nou 100% gerat om aanlynbeoordelings te doen. Kontak ons gerus! (27-02-2021)

Martie Brandt, Elsje Retief, Christo Potgieter, Petro du Plessis, Clarie Booyens en Pieter Alberts het onlangs Laerskool Garsfontein se Interne Redenaarskompetisie beoordeel. Die leerders het met entoesiasme deelgeneem en leerders sowel as onderwysers/afrigters was bly om weer te kon optree ten spyte daarvan dat daar nie ‘n gehoor was nie. Daar is opnames gemaak sodat ouers ook kon sien hoe die kinders optree. ‘n Suksesvolle middag wat puik georganiseer is te midde van die magdom maatreëls wat Covid meegebring het. (15-03-2021)

Martie Brandt en Pieter Alberts het op 23 Maart in Thabazimbi redenaars beoordeel. Dit was by die Hoërskool Frikkie Meyer se Interne redenaarskompetisie wat deur die voorsitter van die ATKV tak, Mev. Rita Volschenk, georganiseer is. ‘n Hoë standaard is deur die leerders gehandhaaf wat van deeglike voorbereiding getuig het. Dit was ‘n voorreg om by die skool, wat met die pragtige Kransberge omring is, te kon beoordeel. (29-03-2021)

Laerskool Louis Leipoldt in Verwoerdburg het op 24 en 25 Maart hulle interne Redenaars-uitdunwedstryde gehou. Die RAB-beoordelaars, mevv. Diekie Jacobs, Kittie Broos, Petro du Plessis en Louise Lachenicht, het die voorreg gehad om die talentvolle deelnemers te beoordeel en om so die room van die skool te kon uitkies vir verdere deelnames aan eksterne Redenaarskompetisies, soos dié van die ATKV. Interessante variasies van die dieselfde temas is skitterend aangepak en met goeie argumente aangebied. Onder die bekwame leiding van Amanda Snyman het die organisasie vir die twee middae puik verloop. (29-03-2021)

Create your website with WordPress.com
Spring weg